Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 28 OKTOBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,235, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

ADVERTENSIES OP DIE WEB WERK VIR BEIDE LEDE EN ADVERTEERDERS MAAR LET ASB. OP DIE VERSKIL

KATLEGO ZABALA WEN DIE RUIMTE-OPSTELKOMPETISIE

SARL-HMO-BAKENPROJEK GELOODS

91 KANDIDATE SLAAG DIE RADIOAMATEUREKSAMEN

ARRP-PROJEK BEGIN VORM ANNEEM

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

ADVERTENSIES OP DIE WEB WERK VIR BEIDE LEDE EN ADVERTEERDERS MAAR LET ASB. OP DIE VERSKIL

Die SARL werk voortdurend daaraan om meer dienste aam sy lede te verskaf en ten einde dit te bereik kyk die SARL na innoverende metodes om dit te finansier. “Ons het ook onderneem om ledegeld so laag as moontlik te hou”, het die SARL se President, Graham Hartlett, ZS6GJH, gesê. “Ons bereik duidelik hierdie doelwit soos weerspieël in hierdie jaar se lidmaatskapfooi wat op dieselfde vlak as dié van verlede jaar is ten spyte van inflasionêre druk weens stygings in lone, posgeld, telefoonkoste en drukwerk. Hierbenewens het ons ook ‘n eenmalige afslag van 20% vir senior lede ingevoer.

Die SARL verkry van sy inkomste uit adverteerders in Radio ZS en op die web. Hierdie diens is tot voordeel van beide die firmas wat adverteringsruimte koop en lede wat voordeel trek uit die inligting wat deur die adverteerders verstrek word. Ons stygende lidmaatskap en toenemende besoeke aan die web voorsien toenemende waarde aan die adverteerders.

As ‘n diens aan lede voorsien die SARL hamads in Radio ZS en ‘n ruilfasiliteit kosteloos op die web. Hierdie twee dienste is duidelik bedoel vir individue wat van enige surplus persoonlike amateurradiotoerusting of soortgelyke items ontslae wil raak. Hierdie dienste is nie bedoel vir handeldryf nie; daarvoor is die advertensieruimte waarvoor betaal word, geskep. Handelaars en persone wat amateurradio- en ander toerusting vir wins wil verkoop, word na die betaaladvertensieruimte verwys. Die SARL sal met graagte enige nuwe idees verwelkom oorweeg en sal met adverteerders saamwerk ten einde die beste kanale vir hulle beskikbaar te stel. Hulle moet hulle egter daarvan weerhou om die kanale te gebruik wat vir individuele radioamateurs daargestel is. Verkopers met enige spesifieke vereistes moet ‘n e-pos stuur aan secretary@sarl.org.za en dan sal die verantwoordelike raadslid met die eerste geleentheid kontak.

KATLEGO ZABALA WEN DIE RUIMTE-OPSTELKOMPETISIE

Verlede week het die Suid-Afrikaanse Amateurradio-Ontwikkelingstrust die kompetisie-inskrywings wat gedurende die 2007 ruimteweekgebeurtenis ontvang is, beoordeel. Leerders was die geleentheid gebied om op 10 Oktober met Mark Shuttleworth te praat en was gekies op die grondslag van ‘n opstel oor “Die toekoms van Ruimte in ondersteuning van die Mensdom”. ‘n Vyftienjarige student Katlego Zabala, van die Sekano-Ntoane Sekondêre skool is die wenner. Tydens ‘n funksie by die NARS vroeg in Desember sal ‘n skootrekenaar aan hom oorhandig word. Die beoordelaars gaan die ander inskrywings na en sal 5 bestes kies wat elkeen ‘n 40 meter direkte omsettingsontvangerboustel sal ontvang. Katlego se opstel kan op www.sarl.org.za gelees word, klik op ‘activities’ en dan op ‘youth’.

SARL-HMO-BAKENPROJEK GELOODS

Die SARL-HMO-bakenprojek is verlede Dinsdag formeel geloods tydens ‘n funksie in die Nasionale Amateurradiosentrum in Gauteng. Die eerste bakensenders is aan hulle gashere versend en sal binnekort op die lug wees. Die SARL-baken sal vir hierdie week ‘n spesiale boodskap insluit. Skakel in op 7 023 en luister na die boodskap wat in GG uitgesaai word. Lees die morsekode en stuur die booskap aan armi@sarl.org.za tesame met jou naam en kontakbesonderhede. Die eerste korrekte inskrywing wat op 6 November getrek sal word, sal die gelukkige eienaar van ‘n 2007 ARRL-handboek word.

Besoek die nuwe bakenbladsye op die SARL se web vir ‘n volledige tegniese beskrywing van die baken. Jy sal dit onder ‘services’ by www.sarl.org.za vind. Stuur jou kommentaar aangaande die projek aan armi@sarl.org.za.

91 KANDIDATE SLAAG DIE RADIOAMATEUREKSAMEN

Uit 'n totaal van 113 inskrywings het 101 kandidate die eksamen afgelê. 'n Totaal van 91 kandidate het geslaag. Die uitslae is op die webblad van die SARL beskikbaar.

C Reeks, wat die hoogste punte, 100%, in beide afdelings van die eksamen behaal het, spog met die roepsein ZS6BT.

Die jongste kandidaat om die eksamen te slaag is die 14 jarige Suzette van Wyk, van die Elandspoort Hoërskool wat met die roepsein ZR6SVW spog. Suzette is een van die Itchen Valley Radio Club se beurskandidate, en sy voltooi die van Wyk familie se radioamateurstatus.

Die oudste persoon om die eksamen te slaag is die 74 jarige WC Sygo wat die roesein ZU1SW verkry het.

Kandidate word daaraan herinner dat die SARL 'n ooreenkoms met OKOSA het wat bepaal dat kandidate wat geslaag het onmiddellik hulle roepseine mag gebruik mits 'n voltooide lisensieaansoek en HF-assessering ook by die SARL ingedien is.

Baie geluk aan al die kandidate wat geslaag het, en mag julle lewenslank hierdie wonderlike stokperdjie geniet. Indien jy hierdie keer nie die paal gehaal het nie, skryf in vir die volgende eksamen.

ARRP-PROJEK BEGIN VORM ANNEEM

Die Amateurradio Rigtingpeilingprojek begin vorm aanneem. Die SARL se President, Graham Hartlett, het gedurende ‘n onlangse Presidentsnet aangekondig dat die SARL graag ‘n Suid-Afrikaanse span gedurende die volgende aantal jare na die Europese ARRP-kampioenskappe sal wil stuur. Dit beteken dat verskeie spanne in Suid-Afrika gebou sal moet word om uiteindelik in Europa te kan kompeteer. Die internasionale kompetisie vind in verskeie kategorieë plaas en na advies van die organiseerders, het die SARL besluit om met die jeug op 80 m te konsentreer. 80 m is gekies omdat dit die beste intreemodus is. Gedurende die kompetisie moet die deelnemende span verskeie bakens wat op dieselfde frekwensie werk, opspoor. In die BHF-kategorie moet die span tussen baie gereflekteerde seine onderskei, wat dit vir nuwelinge baie moeilik maak om in die kompetisie te presteer. Die SARL het nie BHF-ARRP vir die toekoms uitgesluit nie, maar om op HF te konsentreer sal ‘n Suid-Afrikaanse span ‘n beter kans staan om êrens te kom.

Klubs en individue word uitgenooi om op 25 November aan die Integnet deel te neem waartydens moets en moenies van ARRP bespreek gaan word en om die volgende stap te beplan, wat ‘n demonstrasie, of selfs ‘n klein kompetisie, sal wees tydens die SARL se nasionale konvensie volgende jaar in Bloemfontein.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees behalwe gedurende 30 tot 31 Oktober wanneer aktiewe vlakke verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Ten spyte van die koel weer is die DX-toestande gelukkig bietjie warmer, veral die Noord-Suid paaie. 15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 10, 15 en 20 m-openinge vanaf 13:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van 20 m-openinge na Australië vanaf 06:00. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m openinge na die VSA.

Vir die morsekode en digitale -entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Verder is dit nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m-WAZS-toekenning. Dit is nou as die donderstorms vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

25 November – Integnet aangaande ARRP;
30 November – Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-Raadslede.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003